blog | werkgroep caraïbische letteren

Die reënboog is ’n spieël aan skerwe

door Breyten Breytenbach

As ontgogelde utopis glo ek ons het nie net die droom van een nasie verloor nie, maar dat die Suid-Afrikaanse samelewing in al sy geledinge terminale simptome toon van magsmisbruik, arrogansie, rassisme, vervolgingswaansin, oorlewingsvrees en ’n endemiese oneerlikheid met politieke gatkruip wat klaarblyklik belangriker as bekwaamheid geag word. En dat politieke en kulturele en fisieke moorddadigheid hoogty vier. (Natuurlik is dit ’n veralgemening: “Ons is nie almal so nie.” Miskien moet mens liewer sê: “Ons hoef nie almal so te wees nie.” En ek voeg by: Ek glo dat dit deur stryd anders gemaak kan word.)

Kan die verdere inkalwering van die land en haar instellings nog enigsins verhoed word? Hoe keer mens dat die gehawende wete van “Suid-Afrikaner” te wees verder uitrafel?
Was ons ooit “Suid-Afrikaners”? Wat is die gemene deler tussen verskillende bevolkingsgroepe en klasse wat dieselfde geografiese gebied bewoon – of dit nou histories afgebaken, geannekseer of verbeel is? Is ons enigste verbintenis dalk die negatiewe een van wedywerende nasionalismes en strydende geskiedenisse, van verspilde bloed en die intieme verhouding tussen verdrukker en onderdrukte, tussen roofdier en prooi? Indien ons dan nie kan opgaan in ’n bewustelik gedeelde “geheel” nie, is daar plek vir saambestaan wat nie deur geweld gereguleer word nie?
Suid-Afrika het nie uit die gedeelde herinnering aan ’n nasionale “geheel” ontstaan nie. Die land se kontoere en magslyne was nog altyd getrek aan die hand van opeenvolgende konstrukte van ekonomiese en sosiale bewimpeling: stamme en koninkryke wat veg om oorheersing; setlaaroorwinnings; kolonialisme, en toe die Boererepublieke wat baklei om weg te kom van Britse imperialisme; ná die nederlaag, die Unie van uiteenlopende historiese en streekidentiteite almal onder die Britse kroon; apartheid soos ingevoer deur die Britte en daarna gevestig toe die Afrikaners se Nasionale Party in 1948 die mag verkry, begelei deur sogenaamde afsonderlike ontwikkeling; die nasionale bevrydingstryd, en nou die heerserskap van ’n “revolusionêre” regime wat oortuig is hulle sal regeer “tot Jesus weer kom”. In die proses is gemeenskappe verpletter en verstrooi en inheemse tale verneder tot die “volkstaal” van kombuis en myn en sjebien.
.

Toe afhanklike state en plaasvervangerbewegings met die einde van die Koue Oorlog skielik moes begin skarrel vir beskermhere, geloofwaardigheid, ’n gewaande legitimiteit en dikwels ook vir geld en vir wapens, was dit dalk onvermydelik dat ’n proto-sosialistiese nasionale bevrydingsbeweging soos die ANC, nou sonder Sowjet-dekking of internasionale sosialistiese voeding, sou ontpop as wagmeester van die vryemarkstelsel. ’n Nuwe bedeling sou immers nie sonder toestemming van Kapitaal tot stand kon kom nie.
Mettertyd word die een-party- heerserskap en kultuur van toe-eiening en patronisering omgesit in ’n beleid van staatskapitalisme verdoesel as sosialisme – op voorwaarde dat die staat aan die ANC behoort – en opgedoek as die Nasionale Demokratiese Revolusie. (Goeie ou Westerse begrippe: “nasionaal”, “demokraties”, “revolusie”: vandat ons almal ons samesyn in Engels begin verwoord het, is daar mos nie meer ruimte vir inheemse denkkonstruksies nie.)
Die vervanging van die minderheidsregering wat slegs die belange van die wit gemeenskap verteenwoordig het, was egter geen revolusie nie. Die staat se kankergang was en is aaneenlopend; mag bly gesentreer in die geslote komiteevuiste van die regerende party, al is dié nou ook afgevaardig deur ’n meerderheid landgenote vasgeverf in die geskiedenis; die huidige Grondwet bevraagteken in die praktyk nie die strukture van politieke magsmonopolisering óf die ekonomiese stelsel waarop die staat berus nie.

 

Ná 1994 was daar vir ’n wyle ’n inklusiewe wil om saam te staan rondom die droom van ’n nuwe nasieskap wat die etiek van vergewensgesindheid en dalk selfs onderlinge vertroue sou kon beliggaam, maar dit het gou afgedryf in die riool van verraaide verwagtinge en roofpolitiek, vrees en ongebreidelde vraatsug, bandeloosheid en rassisme.. Daar is veral geen werk gemaak van inklusiwiteit nie. Hoe kan daar dan “genesing” plaasvind?
Ná die aanvanklike oorgangsfase van saambinding was dit gou duidelik dat die Een Nasie as beloofde land gerig gaan word deur hegemoniese Swart Nasionalisme en ’n diepe behoefte om die verlede ongedaan te maak en die geskiedenis te herskryf. Die party aan bewind se eis van, “dis nou ons tyd, dis ons beurt om te eet” – wat na sionalisme gebaseer op huidskleur as die laaste wegkruipplek van die skurk en ’n manier om met die verlede af te reken manipuleer – beteken in die praktyk die meedoënlose verryking van ontplooide kaders ten onkoste van die res van die bevolking.
Daardie “onkoste” – verarming, gebrek aan dienslewering – het die land nou uitgelewer aan misdaad en etniese populisme. En die alledaagse werklikheid maak dit al hoe duideliker dat daar van die Afrikaners verwag word dat hulle hul vaardighede, plase, skole, bankkaarte, aandele, selfone, wapens, drank en tuinvurke stil-skuldig oorhandig voordat hulle verdwyn uit Afrika en die geskiedenis, en dat hulle geen morele reg het om beswaar te maak nie.
Wat nou?
Ons is al lank nie meer in die paradigma van versoening nie. En al sê dié wat met die lekkerkry van skuld op die knieë kruip in die versugting om “swart”, onsigbaar en monddood te word ook wat, iedere landsburger het dieselfde reg op gelyke en waardige behandeling. Die Afrikaners, net soos al hulle landgenote, het die reg op ’n eie taal wat tot haar volle potensiaal uitgeleef kan word, het die reg op veiligheid en ordentlike skole en hospitale.
Ons het die reg en die verpligting, as individue en as kultureel herkenbare bevolkingsgroep, om met elke greintjie invloed waaroor ons beskik ons saak aan die internasionale gemeenskap bekend te maak, om die onderskeid duidelik te maak tussen historiese aandadigheid (aan apartheid) en oorlewing, om te veg vir regstelling en transformasie.

 

Dit beteken dat gesprekke, aangevuur deur ’n morele en praktiese verbeeldingsvermoë, rondom die noodsaak van ’n opnuut geformuleerde Suid-Afrika – gegrond in ’n bestel van funksionerende federale deelstate, met dieselfde regte en moontlikhede vir almal – op alle vlakke aan die orde van die dag moet kom. (So nié, is dit nag.)
Maar hierdie keer moet die burgerlike samelewing keer dat besluite gemaak deur skelms en politieke perdediewe en plunderaars en vergelders en komiteekakkerlakke en dié wat in alle skynheiligheid op eie borste trommel, nie weer aan ons opgedwing word nie.

[in Rapport 12/5/2009]

 

Foto: @ Michiel van Kempen, Zuid-Afrika 2001
on 08.12.2009 at 22:38
Tags: /

Your comment please...

  • RSS
  • Facebook
  • Twitter